Press Blog

Tien Kruiskerk provokasies deur Stephanus Muller

2017.05.03

Hierdie artikel is in Stellenbosch Visio (Herfs 2017) gepubliseer. Die Kruiskerk-konsert was die eerste sodanige geleentheid tydens die 2015/16 studenteproteste waartydens musici, digters en skrywers ten bate van die studente opgetree het.

 

 

‘You’re in Chains Too’ was nie ‘n gewone Stellenbosch konsert nie. Louis Moholo-Moholo, Kyle Shepherd, Nduduzo Makhathini, Lesego Rampolokeng, Jitsvinger, Afurakan, Siphokazi Jonas, AS IS, Emile YX & Heal the Hood, Khoi Konnexion, Stacy Hardy, Nathan Trantraal, Lwazi Lushaba, Siyabonga Njica, Koleka Putuma, Trio SEK, Athabile Nonxuba, Ashanti. In die Kruiskerk vind dit plaas, want soos Voëlvry in 1989 is die konsert op 18 November 2016 nie toegelaat op die Universiteit Stellenbosch kampus nie. ‘Goeie maniere en verfyndheid van optrede’ was hoe prof. De Vries destyds sy besluit verduidelik het, nou amper dertig jaar gelede. Maar die redes – toe en nou – is minder belangrik as die durende vrees vir die verlies aan beheer wat die twee besluite onderlê.

Die muse se paring met die politiek is ‘n provokasie vir drome van beheer.

Provokasie 1: Die busse. Studente is aangery in busse.

 

Provokasie 2: Sang. Studente het gesing toe hulle aankom in Provokasie 1.

Binne minute ná die aanhef van die sang buite die Kruiskerk kom ‘n sekuriteitsvoertuig in Van Ryneveldstraat afgejaag en parkeer ageruit op die oorkantste sypaadjie. Onlustepolisie in diens van die universiteit spring uit en beskermende harnasse word aangegord. Die sang is in die universiteit se ‘opskamer’ herken as voorspel tot oproer.

Provokasie 3: Om te sing en te beweeg in die buitelug ís oproer. Want dit behels die opheffing van die individu in die ruimte en die besetting daarvan deur die kollektief, wyd buite die fisieke ruimte van die onsigbare swart lywe wat deur die kameras agtervolg word.

Binne-in die kerk is dit spannend, en meesleurend, en kru, en ryk. ‘n Alternatiewe universiteit, vir ‘n paar ure. ‘n Alternatiewe Stellenbosch, miskien. Die poësie van swart vroue en die jong gehoor is soos suurstof en longe. Beeldspraak, taal en kadense wat die radikale gehoor laat asemhaal. En subtiele en minder subtiele erkennings uit die gehoor met die aanhoor van segswyses, frases, temas, strewes.

Provokasie 4: Priemend is die taal, en onverbiddelikonverbiddelikuitsluitend Swartsentries.

Lesego Rampolokeng is opgerui, woedend selfs, met Louis Moholo-Moholo wat improviseer op die dromme terwyl Lesego voorlees. Twee legendes, musikaal en literêr, in Stellenbosch, in solidariteit met die studente. Kurators van hulle eie waardigheid as kunstenaars in gesprek met ‘n historiese oomblik.

En soos met Voëlvry, is Afrikaans daar. Die taal word geweeg in die ruimte. Nathan Trantraal en Jethro Louw en Emile Jansen en Quintin Goliath maak Afrikaans dans en sing en praat.

Provokasie 5. Die oorwegend jong swart gehoor bepaal die grense van wat moontlik is, en die taal moduleer wég van Stellenbosch Standaard.

Daar is moontlikhede vir Afrikaans buite die universiteitsbeleid met sy protokolle en klein gekonkel en wit woede. ‘Lit’. ‘Woke’. Woorde wat wys die revolusie kom nie uit die Afrikaanse taallaboratorium nie. Jitsvinger se ‘Brein Suiker’. Die revolusie het ‘n skalkse Afrikaanse toonaard.

Wanneer Stacy Hardy op die verhoog klim om ‘Indecent exposure’ voor te lees, kom die geleentheid tot stilstand.

Provokasie 6: Sy lees ‘n kortverhaal oor die weerloosheid van vroue, ‘n teks wat haar eie geobjektiveerde, geweld-onderworpe seksualiteit oopvlek in brutale metafore.

Provokasie 7: Mense skree uit die gehoor.

Provokasie 8: Ander mense skree terug.

Provokasie 9: Sy is ‘n wit liggaam wat ‘n swart storie vertel.

Provokasie 10: Sy is ‘n vrou wat dit sê soos dit is.

Sy is ‘n node waar die geweld en pyn van generasies saamknoop op daardie oomblik, en kuns nie verder kan werk nie. Tyd balanseer tussen die bekende ineenstorting wanneer alles moet stop, en ‘n herbesinning wat eis dat almal met iets minder as alles tevrede moet wees. Kollektief tree ons terug van die bekende geweld. Ons kies iets minder dramaties. Ons maak die konsert klaar.

Op sosiale media tier dit van die beledigings, die besinnings, die standpunte, die teoretiserings, die verontskuldigings. Dis ‘n gesprek van erge verwonding aan alle kante. Ook van groot optimisme. Nuwe gedigte word gemaak, nuwe kuns geskep in nabetragting van die scandale. Ou politiek speel af in essensialismes en lyste vol nuwe woorde wat teorieë tot slagspreuke buig, stel slagordes op tussen die intelligentsias van gister en vandag en môre. Dit is morsig. Dit is wie en wat ons is. Alles daarvan. Maar daar is óók die ou leuen van kuns as iets meer dan nét politiek. Die verflenterde belofte dat daar in kuns oomblikke van kontak is wat die verskriklikste gewaarwordings van ons krisis kan vashou. Ook die krisis van ons universiteitsgemeenskap. Ook die krisis van ons dorp. Die greep van ritmes en klanke swaar van onuitspreekbaarhede. Glansend van ‘n rypheid in die brandende hoogsomer chaos.

© 2023 Africa Open Institute. All rights reserved.
Terms of use
Art Direction Pixel and Digit